Nadat ek gematrikuleer het aan Hoërskool Randburg het ek by die Universiteit van Pretoria die graad BPrim Ed (Pre-Primêr) verwerf. Ek het gespesialiseer in die preprimêre fase van onderrig.
Oor die afgelope 30 jaar het ek verskeie kleutergroepe in verskillende skole begelei, waarvan hoofsaaklik die Graad-R groep.
Ek was 12 jaar hoof van Dr CF Visser preprimêr en verantwoordelik vir die Gr R-groep se ontwikkeling tot skoolgereedheid. My passie en roeping lê hier: 'n holistiese gereedmaak van voorskolers met die oog op Graad 1. Ek het 'n spesifieke belangstelling in kleutermusiek, en besef die waarde van musiek in die voortgaande ontwikkeling van mense op alle gebiede. Ek is ook 'n opgeleide skoolgereedheidstoetsafnemer.
Die afgelope twee jaar was ek verantwoordelik vir die vestiging van 'n Graad-R klas by 'n privaatskool waar daar voorheen nie Graad-R onderrig beskikbaar was nie.
Ek is voortdurend besig om myself met kennis rakende die wetenskap van vroeë kinderontwikkeling te bemagtig en toe te rus. Ek gryp derhalwe alle geleenthede, werkswinkels en kursusse wat deur die Onderwysdepartement en ander instansies aangebied word, aan. Kleuters met emosionele- en fisiese uitdagings lê my na aan die hart. Ek is daarvan oortuig dat kleuters steeds moet bly speel en op so 'n manier leer. Ek onderskryf die slagspreuk van 'n mentor wat altyd gesê het dat kleuters " al spelende leer en al lerende speel".
Ek is getroud met Johan, ons het twee getroude kinders en ons is ook al geseën met kleinkinders.
Ek beskou dit 'n groot voorreg om saam met Willem Postma Preprimêr hulle nuwe fase mee te maak.
My naam is Chiquita Bezuidenhout, maar in die Seeperdjieklas ken die kinders en ouers my as juf. Cheeky. Ek is dolgelukkig tussen my Seeperdjies, en ons leer, lag en speel elke dag voluit.
Ek is deel van Kontiki sedert 2003. Vir ‘n klein rukkie het ons wel na Nelspruit verhuis en was ek weg uit Bloemfontein, maar dit is moeilik om Kontiki se stof van jou skoene af te skop as jy ooit deel was van die Kontiki familie. Ek is steeds dol daaroor om te sien hoe klein lyfies groei en te help dat hulle in liefde en met glimlaggies in hulle ogies vir skool ontwikkel.
Ek is self ‘n mamma van 2 pragtige seuns. Een het ADHD en die ander OCD. Dit gee my begrip en geduld vir kindjies wat swaarkry. Ek weet dat ‘n mens partykeer om hoekies moet loer om ‘n kindjie te verstaan en sal altyd my bes doen om met julle kosbaarste lyfies te werk asof hulle my eie is, sodat hulle die beste moontlike onderrig kan kry.