Die Taai Toffie van my Lyfie

Marzanne Booyens

Die kleuter se ontdekking van sy eie lyfie (en soms van ander se lyfies) is ‘n riller vir meeste ouers. Hierdie is egter ‘n natuurlike proses en vind in byna alle kleuterhuise plaas. Ouers se hantering van hierdie ontdekking gaan bepaal of dit op die “normale” paadjie gaan bly of nie.

Kleuters se ontwikkeling vind in fases plaas. Elke fase toon sekere gedrag wat as toepaslik geag word tot die ouderdom van jou kindjie. Ons moet egter nooit uit die oog verloor dat elke kindjie ‘n eie unieke wesentjie is nie. Daarom kan dit gebeur dat ‘n kindjie gedrag toon van die groep onder of bo sy ouderdom. Dit is nie noodwendig negatief nie en is bloot sy eie unieke ontwikkelingspatroon.

Tussen 3 en 4 jaar begin geslagsrolidentifikasie en die kleuters begin besef dat hulle ‘n dogtertjie of ‘n seuntjie is (gewoonlik ogv kleredrag en haarstyle). Tussen 4 en 5 kom hulle agter dat die lyfies verskil. Hulle raak nuuskierig en wil sien. Dit is in hierdie fase wat ouers se hare regop staan! Hierdie nuuskierigheid is onskuldig en deel van die kindjie se natuurlike ontwikkeling. Party loer oor die toiletmuurtjie, maar die kindjie met meer selfvertroue vra sommer prontuit vir ‘n maatjie om te wys. As dit met jou kleuter gebeur beteken dit dat dit tyd is vir ‘n praatjie. As jy dit rustig hanteer sal jou kleuter saamgesels. Deur ‘n oop gesprek te voer kan jy as ouer bepaal wat jou kindjie weet en waaroor hy of sy wonder. Beantwoord net dit wat jou kind jou vra. Bly so rustig as moontlik anders kan jy moontlik die kommunikasiekanale tussen jou en jou kindjie toemaak.

4 jaar is ‘n goeie ouderdom om jou kindjie te leer van privaatheid. Jou lyfie is net joune. Die deeltjies wat onder jou swembroekie is, is privaat. Dit beteken nèt jy vat daaraan. Mamma en pappa kan vat om jou te help, maar net as jy hulle toestemming gee om dit te doen. Leer jou kind om hard te sê: “NEE!!” Oefen dit oor en oor by die huis tot jou kindjie gemaklik voel om dit kliphard uit te skree. Jou kind het die reg om nee te sê vir enigiets waarvan hy of sy nie hou nie. Hierdie is ook ‘n goeie tyd om hulle te leer van goeie en slegte geheime. Goeie geheime laat jou hartjie lekker voel, maar enige geheim wat ‘n slegte gevoel in jou hartjie los moet dadelik weggegee word - deur dit aan iemand te vertel.

Kinders ontdek deur hulle sintuie. Hulle ontdek nie net met hulle oë nie, maar ook met hulle handjies. Seuntjies vroetel as ‘n reël vroeër as dogtertjies. Die Here het nou maar eenmaal ‘n man se liggaam so ontwerp dat alles aan die buitekant sit. Hy sien dit dus makliker en kan makliker daaraan vat. Laat hulle toe om te ontdek. Jy kan egter riglyne verskaf. Leer hulle om dit nie voor ander mense doen nie, maar eerder in ‘n veilige zone (soos sy kamer). Respekteer dan hierdie reël deur nie te raas as jy by jou kind se kamer instap en dit sien nie. Urienweginfeksie lei gewoonlik ook tot vroetelgedrag. Dit laat kinders se geslagsdele jeuk of brand en dan gaan dit die mees natuurlike ding wees om te vryf of te trek. Dit bring verligting, maar soms ook genot en dan kan die gedrag volhou, selfs na die infeksie opgeklaar het. As dit gebeur lei net die aandag af of verander sagkens die posisie van die lyfie (as kindjie teen iets skuur). Selfbetasting kan baie maklik gewoontevormend wees, net soos duimsuig of naels kou. Hoe meer aandag dit kry (positief of negatief), hoe meer gaan dit gebeur.

By geboorte is ‘n nuwe babatjie se koppie soos ‘n skoon lei. Alle ervarings wat die kindjie beleef word hier opgeskryf. Ongelukkig skryf die maatjies ook soms idees (aldan skeef en krom) in jou kind se koppie op. Dit is dus belangrik dat ouers daagliks met hulle kindertjies gesels en uitvind of daar nie ‘n paar wanpersepsies opgeteken is, wat reggestel behoort te word nie.

(Die res van die inligting is net so geneem uit ‘n artikel oor seksuele ontdekking gevind op www.ip-ig.co.za)

‘Normale’ psigoseksuele gedrag:
0 – 4 jaar
5 – 9 jaar
Soen en druk ander
Soen en druk ander
Is nuuskierig oor en kyk na ander se geslagsdele
(beperkte begrip van privaatheid)
Is nuuskierig oor en kyk na ander se geslagsdele
(bewus van behoefte aan privaatheid)
Praat oor en wys na geslagsdele
Praat oor en wys per geleentheid na geslagsdele
Gebruik woorde soos ‘poe-poe’, ‘boude’ en ‘privaat’ (geslagsdele) vrylik
Gebruik woorde soos ‘poe-poe’, ‘boude’ en ‘privaat’ (geslagsdele) vrylik en om te skok
Speel ‘huis-huis’ met ouerfigure of dokterspeletjies
Speel ‘huis-huis’ met ouerfigure of dokterspeletjies
Wys, vat aan en vryf eie geslagsdele
Vat aan of vryf eie geslagsdele

Gedrag waaroor bekommerd kan wees:
Gedrag wat buite die ouderdomsverwante norm is wanneer die kind meer weet as wat hy veronderstel is om te weet onvanpaste interaksie met ouer kinders seksuele gedrag wat gepaard gaan met aggressie gedrag wat die kind se normale ontwikkeling beïnvloed aanhoudende seksuele gedrag wat buite die norm is

Wat om te doen:
Bly kalm en praat rustig met jou kind. Probeer uitvind wat gebeur het of wat aanleiding gegee het tot sy gedrag. Die kind mag dalk ongemaklik voel so let op jou liggaams- en lyftaal. Kinders besef nie altyd dat daar verskillend opgetree moet word in die publiek as by die huis nie. Verduidelik aan hulle die verskil. Kinders besef ook nie dat hulle gedrag en aksies ander kinders kan benadeel nie. Verduidelik dit aan hulle.

Die volgende van :

WAT ELKE KIND MOET WEET

Jou lyf is JOU lyf. Jy voel goed oor jou lyf as alles reg is. As alles nie reg voel nie, of jy voel skaam of ongemaklik, sê NEE!! Al is dit iemand wat jy ken en vertrou, sê NEE! Al sê hulle dis ‘n geheim - moenie dit glo nie, sê NEE! Selfs al sê hulle hulle sal iets slegs aan jou doen, sal jy eers veilig wees, wanneer jy iemand wat jy kan vertrou, daarvan vertel het. Sê NEE! Jou lyf is jou lyf en jy moet dit vir jouself oppas.

1. DRUKKIES: Drukkies en soentjies is lekker, veral van mense van wie ons hou. Selfs drukkies en soentjies waarvan jy hou, moet nooit ‘n geheim wees nie.

2. LYF: Jou lyf behoort aan jou e naan niemand anders nie. Dit beteken jou hele lyf, veral die privaatdele onder jou swembroek. As iemand ooit aan jou lyf probeer raak op ‘n manier wat jou bang of deurmekaar laat voel sê NEE en vertel iemand daarvan.

3. NEE: As enige iemand ouer as jy is - selfs iemand wat jy ken - jou probeer soen of op ‘n manier aan jou vat wat jou laat sleg of bang voel, of wanneer hulle sê dit ‘n geheim moet wees, sê met ‘n harde stem Nee! Moenie met enigeen wat jy nie wanneer jy alleen of met kinders is nie. Jy hoef nie lelik te wees met mense wat met jou wil praat nie. Maak net of jy nie hoor nie en hou aan met stap.

4. SKREEU: Waar jy ook al is is dit goed en reg dat jy skree as iemand jou probeer seer maak. Oefen so hard as wat jy kan om met ‘n groot diep stem te skree. Haal diep asem en skree uit jou maag, nie uit jou keel nie.

5. HARDLOOP: As ‘n vreemdeling of selfs iemand wat jy ken jou wil afknou, seermaak of sò aan jou vat dat jy bang word, hardloop weg en kry hulp. Maak seker dat jy altyd na ander mense of na ‘n winkel hardloop, as jy kan.

6. GEHEIME: Geheime, soos ‘n verjaardagpersent is pret. Maar party geheime is nie goed nie en moet NIE stilgehou word NIE. Geen ouer mens mag jou ooit vra om dit geheim te hou wanneer hulle jou soen, ‘n drukkie gee of aan jou vat nie. As iemand wil hê jy moet dit ‘n geheim hou, selfs al ken jy daardie mens, moet jy ‘n grootmens wat jy vertrou daarvan vertel.

7. VERTEL: As enige iemand jou bang maak of op ‘n manier aan jou wil laat vat wat jou nie lekker laat voel nie, vertel ‘n grootmens wat jy vertrou daarvan. Dis NOOIT jou skuld as ‘n ouer mens dit doen nie. As die eerste grootmens wat jy vertel, jou nie glo nie, gaan vertel ander mense totdat iemand jou glo. Dit sal dalk nie maklik wees nie, maar probeer om sommer nou dadelik vir iemand te vertel as iets vroeër al gebeur het waarvan jy nog nooit vertel het nie. Wie kan jy vertel?

8. OMKOOP: Moenie geld of lekkers of ‘n present by enige iemand neem as jy eers iets moet doen om dit te kry nie. Meeste van die tyd is dit reg om persente te neem, soos met jou verjaarsdag. Maar party mense probeer kinders kul om iets te doen deur vir hulle geld of lekkers te gee. Dit beteken hulle probeer jou omkoop…Moenie dat hulle dit ooit regkry nie.

9. KODES: Dink ‘n kodewoord of teken uit saam met jou ouers of die mense wat jou oppas. Dit moet ‘n word of ‘n teken wees wat net julle ken. As hulle iemand moet stuur om jou te kom haal, moet die persoon eers die kode ken. As hulle nie die kode ken nie, weet jy jou ouers het hulle nie gestuur nie. Moenie jou kode aan niemand vertel nie.

10. VREEMDELINGE: As ‘n vreemdeling jou vra om saam met hom/haar te gaan, sê NEE!

Awesome Image

By Klein Possies is elke kleutertjie spesiaal. Elke kindjie se individualiteit en uniekheid word in ag geneem wanneer ons hulle voorberei vir skooltoetrede. Al ons graad R-klasse voldoen aan departementele riglyne en volg die CAPS-kurrikulum.

 
 
 
 

Skoolure

  • Ma - Vr07:00-17:15
  • Sa - SoGesluit
  • SkoolvakansiesGesluit

  Besoek ons Facebookbladsy.

 
 

Kontak ons gerus

U kan ons gedurende skoolure kontak by.

  • Genl. Hertzogstraat 100
    Dan Pienaar, Bloemfontein
  • 051 – 436 3370
  • ontvangs@willempostmapreprimer.co.za
© 2025 Willem Postma Preprimêr. Alle regte voorbehou. Webtuiste deur Utilisoft