Oor Ons

Agtergrond

Die skool se naam in ‘n neutedop

Die skool is op 20 Julie 1976 gestig. Die eerste perseel was op die hoek van Louw Wepener- en Prellerstraat, Dan Pienaar.
Aanvanklik het die skool slegs bekend gestaan as Kleuterskool en daar is ‘n kompetisie geloots om ‘n naam vir die skooltjie te vind. Die skool het 78 kleuters gehad. Die kompetisie het heelwat name opgelewer, waaronder Busy Bee, Miniland en Launching Pad. Op 14 September 1976 is Kontiki aangewys as die wenner en ‘n dame met die naam van Magrieta het ‘n stel goue oorringe as prys ontvang. Die geleentheid is saam met 150 ouers gevier in die vorm van ‘n Kaas-en-Wyn.

In Januarie 2003 word die hele skool geskuif na die hoek van Generaal Hertzogstraat en Graaff Reinettstraat, sodat Prellerplein kan uitbrei. In 2019 word die besluit geneem dat Kontiki gaan inskakel by Willem Postma as hulle graad R-skool en in Januarie 2021 word Kontiki Preprimêr se naam amptelik verander na Willem Postma Preprimêr.

Kontiki se Geskiedenis

Die storie agter die naam is ‘n bekende.

Die avonturier en ontdekkingsreisiger, Thor Heyerdahl, het ‘n vlot gebou van Indiese
balsahout, waarmee hy oor die oseane gevaar het. In 1947 het hy op die eerste
Kon-Tiki-Ekspedisie vertrek. Daarmee het hy bewys dat die vlotte wel die Stille
oseaan kon oorsteek. Die Kontiki-vlot was ongeveer 45 voet lank en 18 voet breed en het ‘n vierkantige seil gehad met 5 middelborde en ‘n stuur. Die vlot was plat en water kon gevolglik nêrens opdam wanneer die golwe en rowwe see daaroor gespoel het nie. Kontiki Kleuterskool is dan ook ‘n plek van avontuur vir jong kinders en daarom die naam.

Uit Kontiki se dagboek kan afgelei word dat die skool se eerste dag nie sonder probleme was nie. Op Kontiki se heel eerste skooldag het daar ‘n pyp in die personeel se badkamer gebars en die hele kantoor was onder water. Die skool se opening was in die middel van die winter en die enigste ander gebou in die omgewing was ‘n drankwinkel!
Die skooltjie was nog nie omhein nie en boemelaars het gevolglik snags daar gaan skuiling soek en baie gemors op die terrein.

Skaars twee weke nadat die skool geopen het, het daar masels uitgebreek en baie kleuters was siek met griep en verkoue. Die skool moes ook vir die eerste paar dae sonder ‘n telefoon oor die weg kom, wat kommunikasie met siek kinders se ouers baie bemoeilik het.
In daardie dae het die Beheerliggaam van die skool, saam met die personeel ook gereeld koek- en worsbroodjieverkopings gehou. Die fondse wat ingesamel is, is gebruik vir die aankoop van opvoedkundige speelgoed, meubelment en buite-apparaat. Uiteindelik, op 5 Desember 1977, is die sandpit voltooi, teen die bedrag van R235 (Vandag kos net die sand vir ons sandpit 10 keer die bedrag!). Die amptelike opening van Kontiki Preprimêre Skool is gehou op 23 Maart 1977 en is behartig deur Prof. Van der Walt, destydse Burgermeester van Bloemfontein.
Die ontwikkelaars het besluit om Prellerplein uit te brei en moes Kontiki akkommodeer. Die skool is verskuif van waar Hi-Q en Nedbank is, na die huidige perseel. Die voordeel hieraan was dat die personeel insette kon lewer op die nuwe gebou en terrein. Ons het toe inderdaad breêr stoepe, ‘n vierkantige speelterrein, bankies by die sandpit, vir elke klas ‘n eie bad-kamer en ‘n ekstra klaskamer is bestel. Met die aanvang van die skooljaar in Januarie 2003 kon ons die kleuters in die nuwe skoolgebou, op die hoek van Generaal Hertzog- en Graaf Reinettstraat ontvang. Die eerste maand is daar nog afrondingswerk gedoen en moes ons skoolhou met ‘n gewerskaf om ons, maar die eindproduk was die wag, en die ontwrigting, werd!

Skoolhoofde

Nan Greenshields 20 Jul 1976 – 29 Jun 1978
San-Marie Cronje 1 Jul 1978 – 31 Des 1991
Carien de Kock (Uys) 1 Jan 1992 – 31 Mrt 1997
Heidi Roodt 1 Apr 1997 – 31 Des 2003
Hanlie Herselman 1 Jan 2004 – 30 Jun 2006
Sanmarie Odendaal 1 Jul 2006 – 31 Mrt 2007
Marzanne Booyens (Combrinck) 1 Apr 2007 – huidiglik

Marzanne is sedert begin 1999 verbonde aan die skool.

Awesome Image

By Klein Possies is elke kleutertjie spesiaal. Elke kindjie se individualiteit en uniekheid word in ag geneem wanneer ons hulle voorberei vir skooltoetrede. Al ons graad R-klasse voldoen aan departementele riglyne en volg die CAPS-kurrikulum.

 
 
 
 

Skoolure

  • Ma - Vr07:00-17:15
  • Sa - SoGesluit
  • SkoolvakansiesGesluit

  Besoek ons Facebookbladsy.

 
 

Kontak ons gerus

U kan ons gedurende skoolure kontak by.

  • Genl. Hertzogstraat 100
    Dan Pienaar, Bloemfontein
  • 051 – 436 3370
  • ontvangs@willempostmapreprimer.co.za
© 2024 Willem Postma Preprimêr. Alle regte voorbehou. Webtuiste deur Utilisoft